Wat ‘n snikhete dag was dit nie by die interskole swemgala nie! Ten spyte van die hitte was die binnenshuise swembad by Hoër Volkskool met opwinding en gesonde kompetisie gevul. Die kompleks was pragtig met ballonne versier en kosstalletjies het ‘n heerlike verskeidenheid lekkernye soos yskoffie, “doughnuts” en quiches, asook Engen se yskoue koeldrank en roomys aangebied!

In ‘n indrukwekkende vertoning van talent en vasberadenheid het Laer Volkskool as wenners met ‘n totaal van 619 punte teenoor UPS se 567 punte, uit die stryd getree. Die dinamiese duo JJ en Zenicke van Schalkwyk van LVS het die titels Victor Ludorum en Victrix Ludorum gewen, weereens ‘n bewys van hierdie broer en suster se besonderse swemvernuf.

Hoër Volkskool het die oorwinning oor UHS met ‘n telling van 364 teenoor 323 punte behaal. Ben Lemke van UHS is vereer met die titel Victor Ludorum, terwyl Kate-Lynn Kruger van HVS as die Victrix Ludorum aangewys is. Baie geluk met hierdie uiitstaande prestasies!

Baie geluk aan al die deelnemers met hul prestasies!

‘n Hartlike dank aan al die toegewyde onderwysers van beide skole wat tydens die Interskole Gala as beamptes opgetree het. Jul toewyding en harde werk het verseker dat die geleentheid glad verloop. Ons bedank ook die ouers wat die hitte trotseer het om hul kinders te ondersteun. Julle aanmoediging en teenwoordigheid het tot die heerlike atmosfeer van die gala bygedra. Saam is u ondersteuning en deelname van onskatbare waarde om ‘n gevoel van gemeenskap en sportmangees onder ons skole te bevorder. Dankie vir julle onwrikbare toewyding en entoesiasme!

Meer Nuusberigte