As die eerste hoërskool in Kaapland met Afrikaans as sy enigste voertaal, beklee die Hoër Volkskool ‘n besondere plek in die geskiedenis van Kaapland se onderwys en deur die jare het hy steeds as ‘n baanbreker sy plek op die terrein van die Afrikaanse kultuur konsekwent gehandhaaf. Uit beroemde voorsate soos die”Midland Seminary” vir dogters, en die “Boy’s College” stam die Hoër Volkskool.

Aan die einde van 1919 word dr. G. von W. Eybers as hoof van die “Boy’s College” aangestel en toe hy Nederlands deur Afrikaans vervang, het die poppe begin dans. Die Engelse ouers het nie met hierdie dubbelmedium seunskool genoeë geneem nie en stig ‘n private Engelse kerkskool wat later in die “Union High School” ontwikkel het. In 1921 word ds. J. F. Naudé alhier bevestig as leraar van die N G Gemeente en hy dring daarop aan dat die Taalordonnansie in die “Midland Seminary” tot sy reg moet kom, want hy het twee skoolgaande dogters gehad. Na ‘n besoek van die destydse S G O, dr. WJ Viljoen en sy hoofinspekteur, is besluit dat die ontevredenes ‘n skool sal kry waar Engels die voertaal sou wees en dat Afrikaanssprekende kinders in één skool sou saamkom onder hoofskap van dr. G von W. Eybers om in hul moedertaal hul onderrig te ontvang. Die noodsaaklikheid van ‘n Afrikaanse skool het hom kort na die stigting in 1922, duidelik geblyk toe Afrikanerseuns en -dogters van heinde en verre gekom het om onderrig te ontvang – in so ‘n mate dat die skool spoedig vergroot moes word.

In 1926 is dr. Eybers opgevolg deur mnr. U. J. Cronjé wat 26 jaar lank die skool verder uitgebou en ontwikkel het. Sy hartstogtelike liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur het ‘n groot indruk gemaak en aansteeklik gewerk en so het Volkskool gedy tot ‘n skool met ‘n Afrikaanse tradisie wat ongeëwenaard is.

Die verwoestende brand van 8 Mei 1949 en die gevolglike verwoesting van die gebou waar soveel lief en leed gedurende ‘n kwarteeu van toewyding deurgemaak is kon die skool se trotse tradisie nie uitwis nie. Die oue het verbygegaan! Dit het alles nuut geword! Aan die einde van 1952 lê adv. Cronjé die tuig neer en die volgende jaar kom mnr. G. J. Smit as nuwe hoof. In sy tyd vind die skeiding van die twee skole plaas. Aan die begin van die tweede kwartaal 1954 het die sekondêre leerlinge en personeel verhuis na die nuwe hoërskool in Plasketstraat. Mnr. H. C. de Beer het agtergebly as hoof van die Laer Volkskool. In 1954 is ook die pragtige nuwe koshuis, Huis Cronjè, betrek en is ‘n begin met die aanlê van die rugbyveld en atletiekbaan. Op 29 en 30 September 1955
neem die geagte S G O, dr. Meiring, die amptelike opening van die hoërskoolgeboue, sowel as Huis Cronjè, waar.

In 1958 kom mnr. D. L. van den Berg as opvolger van mnr. G. J. Smit. In sy tyd het die getalle so gestyg dat ‘n nuwe koshuis, Handhaaf, verrys. Mnr. M. B. Brink kom in 1964 en in sy tyd het die hokkieveld ‘n werklikheid geword en is die borsbeeld van wyle dr. H.F. Verwoerd deur mev. Betsie Verwoerd op 11 Oktober 1960 onthul. Die Brink-era word op luisterryke wyse afgesluit met ‘n pragtige en onvergeetlike jubileumfees in 1972. Die volgende drie jaar lank hou mnr. P. Bruwer die fort en begin Oktober 1976 neem mnr. A. Hattingh die leisels oor.

‘n Kenmerk van die Hattingh-era was die baie fisiese geriewe wat die skool bygekry het. Voorbeelde hiervan is die swembad, verdere rugby-, hokkie- en krieketvelde, asook netbal- en tennisbane. Die droom van ‘n kafee en ‘n eie klubhuis (Die Volksie) is ook in sy tyd verwesenlik. As oortuigde Christen en Afrikaner in murg en been het mnr. Hattingh ‘n diep stempel op die leerlinge van Volkskool afgedruk. In sy tyd het die skool gegroei tot een van dié Afrikaanse skole op die platteland. Teen die einde van sy termyn beleef die skool ook ‘n bloeitydperk wat leerlinggetalle betref. Aan begin Oktober 1993 het mnr. J. Rossouw as agste skoolhoof by mnr. Hattingh oorgeneem. Gedurende Januarie 1997 is mnr. Rossouw gesekondeer na die distrikskantoor as onderwys ontwikkelingsbeampte en sedertdien neem mnr. R. Fourie waar as skoolhoof tot 30 September 1999. Op 1 Oktober 1999 word mnr. Fourie aangestel as skoolhoof.

Vandag kan die Hoër Volkskool met trots terugkyk op wat hy vanaf sy stigting bereik het. Hy het seuns en dogters onderrig wat hulle plek op elke gebied van die samelewing volstaan. Met trots kan die Volkskool ook daarop aanspraak maak dat die begin van die Voortrekkerbeweging hier ontstaan het, omdat hy kort na die stigting ‘n onderwyser gehad het, met die naam Japie Heese, wat so ‘n beweging hier begin het.

‘n Tradisie is geskep en die grondslae vir toekomstige sukses is gelê. Die skool vra getrouheid aan hierdie tradisie. Mag die leuse, “Ons sal Handhaaf” steeds ‘n inspirasie vir die toekoms wees.

DIE SKOOLWAPEN EN LEUSE

Die wapen is deur mnr. J.A. Smith, die destydse redakteur van die plaaslike ONZE COURANT ontwerp.

Die leuse ONS SAL HANDHAAF is deur C.J. Langenhoven voorgestel.