Ses jaar gelede is daar ‘n nuwe koshuiskomitee verkies vir Huis Cronje. Mev. Christelle Nel was die voorsitter vir twee termyne (ses jaar). Van die eerste dag af, was die komitee se hoofdoel om die koshuis se geriewe op te gradeer.

Vandag kan terug gekyk word met trots en groot dankbaarheid. Die hele koshuis is in hierdie tyd binne, sowel as buite geverf; kaste is vervang aan die seunskant en herstel aan die dogterskant; matriekbadkamers is oorgedoen; groot seunsbadkamer is oorgedoen; in die eetsaal spog ons met ‘n Hoofleiers-bord; voor die koshuis is ‘n netjiese palisadeheining; die hele koshuis se matrasse is vervang asook van die beddens; die koshuis het ‘n vlag gekry wat daagliks gehys word.   Iets waarop ons baie trots is, is ons eie Koshuislied – geskryf deur die 2015 hoofdogter van Huis Cronje, Lizelle Nel.

Die afgelope vyf jaar bied ons elke jaar ‘n baie suksesvolle springbokjagkompetisie aan. Die fondse word aangewend vir instandhouding. Die brein agter hierdie projek is mnr. Tokkels Lombard. Dit is ‘n geleentheid wat baie harde werk verg en beslis die moeite werd.

Aan die einde van 2017 het een van die uittredende lede, mev. Lea van der Vyver, in samewerking met mev. Annalie Lategan van Aberdeen, die area voor die koshuis verfraai met die bou van ‘n pragtige spuitfontein waar die kinders lekker kan ontspan. Net nadat mev. Nel se termyn verstryk het, het sy die pragtige nuwe naambord en wapen laat aanbring voor die koshuis as afskeidsgeskenk. Die komitee is trots op hierdie koshuis en dit is ‘n heerlike huis vir elke inwoner, weg van die ouerhuis. Tans is die superintendentspaar van die koshuis, mnr en mev Van Rooyen.

Meer Nuusberigte