Groot opgewondenheid het by Hoër Volkskool geheers toe sewentig graad sewe leerders en ‘n groot groep ouers die Opedag bygewoon het.  Hier is ‘n geleentheid geskep om die skool beter te leer ken op ‘n ontspanne en interessante manier.

‘n Boodskap uit Psalm 8, wat die plek van die mens in die skepping verduidelik, het die verrigtinge begin.  Die skoolhoof het daarna ‘n uitnodiging aan die graad sewes en hulle ouers gerig om Hoër Volkskool hulle keuse te maak.  ‘n Besonderse dansvertoning op die verhoog het almal in die saal meegevoer met klank en ritme.  Die leerlingraad het as modelle opgetree om die kleredrag voor te stel.  Elke voornemende leerder het ‘n volledige inligtingstuk ontvang rakende al die skoolsake.

‘n Verskeidenheid groepaanbiedings is baie deur die leerders geniet.  Skyfskiet was vir sommige die eerste ervaring om ‘n sneller te trek.  Die disseksie van longe het ‘n paar lighoofdig gemaak en ander nou al laat besluit om ‘n dokter of veearts te word.  ‘n Paar chemiese reaksies , en selfs ‘n ontploffing of twee, het die adrenalien behoorlik opgejaag.  Koekversiering het die kreatiwiteit van die leerders getoets en ‘n kompetisiegees tussen die groepe geskep.  ‘n Besoek aan die koshuis was ook op die program.

Die dag is met verversings afgesluit by die Volksie Klubhuis.  Die graad sewes het die dag baie geniet en sal beslis Hoër Volkskool as ‘n keuse oorweeg vir 2019.

Meer Nuusberigte