Theo Dörfling is as skoolhoof van Hoër Volkskool vanaf 01 Julie 2019 aangestel.  Hy het as waarnemende hoof opgetree na die aftrede van Hennie van Rooyen aan die einde van 2018.

Theo het sy loopbaan as onderwyser in 1990 by die Hoërskool Knysna begin.  Hy beskou die verskeidenheid van leerders wat hy daar onderrig het as ‘n goeie grondslag vir hom as onderwyser.  Hy het daarna sy onderwysloopbaan by die Hoër Landbouskool Marlow voortgesit.  Die unieke landbouomgewing met leerders wat ‘n eiesoortige karakter ontwikkel, het ‘n verdere rol gespeel om sy onderwysvaardighede te ontwikkel.  Hy is in 2002 as Departementshoof wat tweede in bevel is, by Hoër Volkskool aangestel.  Vir ‘n periode tussen 2011 en 2013 het hy ook as waarnemende hoof opgetree.  Dié ondervinding wat hy in Hoër Volkskool opgedoen het, het hom verder voorberei vir die hoofpos.

In sy hart is hy ‘n onderwyser wat Landbouwetenskap met passie onderrig.  Die praktiese komponent van die vak gee uitdrukking aan sy liefde vir die natuur.  Hy het ook vir baie jare Lewenswetenskap onderrig.

Hy het ‘n besondere liefde vir kultuur.  Leerders word deur hom gemotiveer om hul talente by kunstefeeste te ontwikkel.  Hier het hy bewys dat jy met omgee en harde werk op enige terrein suksesvol kan wees.  In die gemeenskap is hy betrokke as voorsanger by die kerk, sing in ‘n koor en is betrokke by die bewaring van die kultuur van ons dorp.

Sy liefde en kennis van atletiek het by elke skool waar hy betrokke was hierdie sport tot hoër hoogtes geneem.  Hy is nog steeds betrokke by die administrasie van die sport tot op streeksvlak.  Om na meer as honderd en twintig keer ‘n atletiek byeenkoms te reël, is tweede natuur vir hom.  Hy neem suksesvol aan meestersatletiek deel.  Hy het ook al rugby en tennis met baie toewyding afgerig.  Volgens hom word baie leerders se menswees op die sportveld gevorm.

Onderwys is volgens hom ‘n uitdagende, maar tog ‘n bevredigende beroep.  Die kernwaardes van die onderwys het dieselfde gebly.  Aanpassings is nodig in ‘n veranderende wêreld, maar dit moet nie ten koste van goeie opvoeding nagejaag word nie.  Hy waardeer positiewe insette om van die skool nog ‘n beter plek te maak.  Sy familie en geloof is hoekstene waarop hy sy lewe bou.  Hy glo dat hy nou gereed is vir hierdie nuwe uitdaging in sy lewe om Hoër Volkskool en die onderwys te verbeter vir almal wat mooi ideale nastreef.

Meer Nuusberigte