‘n Taal wat leef by Volkskool ✨📖

By Hoër Volkskool is Afrikaans meer as net ’n vak – dit is deel van ons storie, ons erfenis en ons identiteit. Daarom is dit vir ons ’n groot vreugde dat die twee Afrikaanse klasse onlangs opgegradeer is, juis in die jaar waarin Afrikaans sy 100ste bestaansjaar vier.

Die eerste klas bring hulde aan die ontstaan van Afrikaans. Hier kan leerders die taal se pad naspeur – van die taalmonument in Paarl, tot die woorde en gesigte van bekende Afrikaanse skrywers wat die taal se ryk skat laat groei het. Alles wat eg Afrikaans is, kry hier sy plek – ’n ruimte wat herinner aan die wortels van ons moedertaal.
Die tweede klas neem ons op ’n reis deur die streeksvariante van Afrikaans. Van die unieke ritme van Karoo-Afrikaans, tot die kleurryke uitdrukkings van Griekwa-Afrikaans en die klanke van Vrystaat Afrikaans – hierdie klas wys hoe wyd en lewendig Afrikaans regoor ons land leef.

Met hierdie twee nuwe ruimtes word Afrikaans nie net gevier nie, maar ook geleef. Dit is ‘n getuienis dat ons taal, soos ons Volksie-gees, deurd die jare groei, aanpas en altyd voortbetaan.

‘n Groot woord van dankie aan die Afrikaans Onderwys Netwerk wat hierdie projek moontlik gemaak het. Julle bydrae beteken dat ons leerders elke dag in ruimtes kan leer waar die rykdom en skoonheid van Afrikaans weerspieël word.

Meer Nuusberigte