Hoër Volkskool is opgewonde om twee nuwe onderwysers op ons personeel te verwelkom.

Juf. Clarissa Faber het groot geword in Oos-Londen en het gematrikuleer aan Grens Hoërskool. Sy het haar studies aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom voltooi in B.Sc Verbruikerswetenskap met ondernemingsbestuur asook haar B.Sc Honneurs in Verbruikerswetenskap (gespesialiseer in voedsel produkontwikkeling).
Vanjaar is haar eerste onderwyspos en sy gaan Skeppende Kuns (Gr.8 &9), Toerisme (Gr.10) en Verbruikerstudie (Gr.10-12) aanbied.
In haar kort tydjie wat sy al in Graaff-Reinet is, beskryf sy dorp as volg: ‘Dit is ‘n plattelandse dorpie met sout van die aarde tipe mense. Ek het sommer vinnig besef dat dit besonders warm hier kan raak en dat daar baie geskiedenis in die dorpie lê. Die berge wat die dorpie omring laat ‘n mens net weereens God se kunswerke bewonder en die ou boustyle laat ‘n vreemdeling sommer tuis voel.’
Haar hoop vir ons skool is om Verbruikerstudie meer interaktief te maak tussen die leerders asook die gemeenskaplede dat sodoende meer mense hulle talente kan bewonder en aan die lekker geregte kan smul. Sy wil graag soos ‘n kers die leerders  ‘aansteek’ om hulle passie te volg en te volhard met elke projek of toets. Deur haar doelgerigte gesindheid wil sy selfdissipline en toekomsgerigte denke kweek wat vir die leerders ‘n voorsprong sal wees in die grootmenswêreld.

Juf. Lize-Marie Kotzè het matrikuleer aan die Hoërskool Hugenote in Wellington in die Wes-Kaap. Sy het haar graad in taalkunde verwerf aan die Universiteit Stellenbosch en toe verder studeer om haar Na-Graadse Onderwys Kwalifikasie te verwerf by UNISA. Sy het eers skool gegee by Hoërskool Ladybrand in Ladybrand in die Vrystaat.
Sy gaan Afrikaans Huistaal (Gr. 12) en Engels Eerste Addisionele Taal (Gr. 8) aanbied by Hoër Volkskool. Sy sê: ‘Sover is Graaff-Reinet beslis die heel mooiste dorp wat ek al ooit gesien het. Die Karoo is al klaar besig om diep in my hart in te kruip.’

– Sy hoop om die leerders se kreatiwiteit en individualiteit  aan te wakker om hulle die beste weergawes van hulself te maak.

Ons wens hierdie onderwyseresse baie sterkte toe en glo hul sal baie gelukkig wees in ons gemeenskap.

Meer Nuusberigte