Selfs in die tyd toe Graaff-Reinet se sportaktiwiteite die hoogtepunt van hul bloeijare beleef het met verskeie klubs vir rugby, krieket, tennis ens. was Interskole steeds die hoof sport- en sosiale geleentheid op die dorp se sportalmanak.  Geen gebeurtenis het die pawiljoene van die Botaniese sportveld so met mense gevul nie.

Na die stigting van Volkskool en Union High in 1922 en 1921 onderskeidelik was daar “kwaaivrienskap” tussen ouers, leerlinge en onderwysers van die twee skole.  Tog het die twee skole besluit om “met mekaar te speel” en vind die eerste sportkragmetings vroeg na die skoolstigting plaas.  Alhoewel Volkskool en Union High nie die oudste skole in die gewese Kaapland is nie, is die jaarlikse kragmetings tussen hulle van die oudstes.

Van 1928 tot 1969 het daar twee Interskoles per jaar plaasgevind.  Soos die rekords toon, het dit dikwels gebeur dat die bordjies in die tweede wedstryd verhang word.  Een van die redes wat deur sommige oudskoliere aangevoer word hoekom daar vanaf 1969 net een kragmeting plaasvind is dat daar gevoel is dat die skoolgemeenskap se emosies nie twee keer per jaar so “opgejaag” moet word nie.

Gelukkig kan vir die huidige gemeld word dat die verhouding tussen Volkskool en Union baie goed is.  Daar heers ‘n baie goeie gees van samewerking.  Die vriendskap beteken egter nie dat die een vir die ander sal terugstaan tydens interskole nie.  Die kompetisie is baie straf maar geskied in ‘n goeie gees van sportmanskap.  Ook is dit ‘n geleentheid waartydens oudskoliere vir reünies terugkeer na hul alma mater en weer ‘n smaak van die goeie ou dae te proe.

Lank lewe INTERSKOLE!