Die HVS Rugbyweek het skole vanuit verskeie streke die geleentheid gegee om teen mekaar mee te ding.
Al die spanne het Woensdag, 1 Mei in Graaff-Reinet gearriveer en die week is afgeskop met ‘n verwelkomingseremonie. Hier is almal welkom geheet en bederf met egte Karoo gasvryheid.

Die wedstryde het Donderdagoggend reeds om 8h afgeskop en dit het goed gegaan met Hoër Volkskool se twee spanne wat op die dag deelgeneem het. HVS se 0.16 span het oortuigend gewen teen die 0.16-span van St. Andrews van Bloemfontein. Die telling was 40 – 0.

Die eerste span het later die middag uitgedraf teen Hoërskool Langenhoven van Riversdal en die wedstryd 47 – 0 gewen. Die drieë is gedruk deur Jan-Theo van Tonder, Ashwill Swarts, Ethan Davids, Pieter van der Merwe en Curwin Niemand kon twee keer deurbreek om drieë aan te teken. Die skopwerk is deur AJ de Jager behartig.

Vrydag kon die spelers ‘n ekstra oefensessie inwerk en sommige spanne het die dorp en sy toeriste-aantreklikhede besoek. Die aand het Van der Aven, ‘n nuwe opkomende Afrikaanse musiekgroep, die spanne in die skool se vierkant vermaak. Die vierkant is omskep in ‘n waardige buitelug konsert-area met kosstalletjies om by te dra tot die feestelike atmosfeer.

Saterdag het die rugby weer afgeskop en, alhoewel dit baie warm en winderig was, was dit ‘n goeie dag vir Hoër Volkskool se rugby. Die 014’s het 22 – 12 gewen teen Hoërskool Middelburg, die 0.15’s wen goed teen Glenwood House van George, met ‘n telling van 57 – 5, en die 0.16’s wen 18 – 12 teen Hoërskool Langenhoven.
Die eerste span het die laaste wedstryd van die dag gespeel teen Hoërskool Piketberg. HVS het gesorg da tons die week op ‘n hoogtepunt afsluit en wen 31 – 7. Die drieë is aangeteken deur Pieter van der Merwe, Ethan Davids (2) en Jan-Theo van Tonder (2). Die skopwerk is deur Elrico Prins gedoen.

Na ‘n baie lang en intense naweek, kyk ons terug op ‘n baie suksesvolle en lekker naweek van rugby, spanwerk en gesonde kompetisie.
Ons wil ook graag alle borge en ouers hartlik bedank vir jul bydraes die naweek om van hierdie week ‘n groot sukses te kon maak.

Meer Nuusberigte