Op Saterdag, 11 Februarie 2023 het Hoër Volkskool die eerste boogskietkompetisie van 2023 aangebied. Skuts van Graaff-Reinet (HVS en LVS), Uitenhage, Despatch en Jeffreysbaai het hiervoor ingeskryf . Ons het twee “Bull’s Eye” kompetisies geskiet – Graaff-Reinet Ope en HVS Ope.

Om ‘n boogskietkompetisie aan te bied verg baie beplanning. Ons skietbaan waar daar drie maal per week geoefen word, is te klein om ‘n kompetisie aan te bied en daarom moet daar baie akkuraat ‘n tydelike skietbaan op die A-rugbyveld uitgemeet en afgemerk word . Vroeg Saterdagoggend kan die teikens eers uitgepak word en met trots kan ons sê dat die Volkskool leerders nie bang is om hiermee te help nie.

Boogskiet is ‘n sport waar dissipline en veiligheid van uiterste belang is. Vir Saterdag se kompetisie was mnr. Cronjé die hoofbaanoffisier en het die BAI’s as vlagmanne opgetree.

Tydens ‘n kompetisie word daar na teikens op onderskeidelik 10 en 15 meter geskiet. Op elkeen van hierdie afstande word ‘n oefenrondte en drie rondtes van 5 pyle elk geskiet. Na afloop van elke rondte word die punte deur jou opponent (2 skuts skiet gelyktydig na ‘n teiken) aangeteken.

Boogskiet is ‘n sport waar ouers langs die baan kan saamkuier. Om seker te maak dat die dag ‘n groot sukses is, word die vure vroeg oggend aangesteek en word heerlike eetgoed by die snoepie verkoop.

Terwyl daar angstig gewag word vir die verwerking van die punte voor die prysuitdeling, spring almal weer in om te help om alles weer opgepak en weggepak te kry. Dankie aan die skuts wat almal ingespring en gehelp het. Selfs die skuts van ander skole en klubs sit handjie by!

Uitslae van HVS, LVS en UHS skuts vir die dag as volg (punte uit 300):

Graaff-Reinet OPE

Laerskole

Dogters: 2e Elandri Retief (162)

Seuns: 3e Eben Lötter (236)

Hoërskole

Dogters: 2e Mikha Enslin (274)

Seuns: 3e Mathys Oberholzer (267)

AAG

Volwassenes 3e Carol Cronjé (282)

HVS OPE

Laerskole:

Dogters: 2e Elandri Retief (166)

Seuns: 2e Eben Lötter (234)

Hoërskole:

Dogters: 2e Mikha Enslin (278)

3e Megan Hendrikse (254)

Seuns: 1e Mathys Oberholzer (281)

2e Freddie van der Mescht (280)

AAG

Volwassenes: 2e Carol Cronjé (285)

Tydens Saterdag se kompetisie is ook geskiedenis gemaak deurdat die eerste dubbel 50 in die Oos-Kaap op ‘n teiken geskiet is deur Carol Cronje (HVS) en Peter Howe (Soulpoint).

Baie geluk aan die organiseerder, Beyers Cronjé vir ‘n suksesvolle kompetisie wat aangebied is.

Riaan Enslin baie dankie vir die neem van die foto’s.

Meer Nuusberigte