Dit het ons Hemelse Vader behaag om vir Karin van Wyk, onderwyseres by Hoër Volkskool, in die fleur van haar lewe uit ons midde weg te neem. Karen was een van daardie vroue wat in Spreuke besing word as die deugsame vrou wie se waarde hoër is as dié van edelstene. Sy was ‘n sagte, vriendelike en hulpvaardige mens met ‘n passie vir onderwys en kultuur en nou betrokke by die ATKV. Sy was iemand wat eerder gegee het as om te neem en het nooit iets leliks oor ‘n medemens gesê nie.

Vir bykans drie jaar was sy deel van die personeel waar sy ‘n waardevolle bydrae tot die skool gelewer het. Sy was voorwaar ‘n dame in elke sin van die woord en ‘n voorbeeld vir baie. Sy sal ook onthou word vir haar sagte plekkie vir diere en het haar oor menige ontferm.

Op Vrydag, 19 Augustus 2022, kon kollegas en leerders afskeid neem van juffrou Karin en het die kans gehad om ‘n skenking van hondekos in die houer voor die skool te plaas. Leerders het ook spekboomtakkies saamgebring, waarmee ‘n heining aangeplant is.

Haar plek tussen ons is leeg en haar familie, vriende, kollegas en leerders gaan haar terdeë mis.

💔

Meer Nuusberigte