Die Departement van Onderwys bied elke jaar ‘n jeugkamp aan en kies slegs ‘n paar skole om daaraan deel te neem. Ag van Hoër Volkskool se leerders het verlede week die voorreg gehad om vanjaar se jeugkamp te Jeffreysbaai by te woon.

Venonique de Pearce vertel:

Die jeugkamp het van 4 tot 10 Desember 2021 gestrek. Ons wou eers net hê dit moet al Vrydag wees sodat ons kan terug gaan huis toe, maar dinge het vinnig verander. Daar was verskeie mense van verskillende agtergrond en niemand het jou op die basis van jou geslag, ras, kultuur of geloof geoordeel nie.

Ons het Saterdag omstreeks 12:00 by die kampterrein aangekom, ons sleutels gekry en tyd gekry om uit te pak en beddens te kies vir ons tydjie daar. Later die dag was daar ‘n openingseremonie wat ons bygewoon het.

Daar was ‘n daaglikse roetine en moes ons al 05:00 opstaan om reg te maak vir aerobiese oefeninge, waarna ons van 07:00 tot 08:00 ontbyt geniet het. Na ontbyt het ons van Sondag tot Dinsdag lesings/werksessies bygewoon wat tot 12:00 gestrek het. Buite aktiwiteite was tot 13:00 aangebied en daarna was dit tyd vir middagete tot 14:00. Na die middag het ons weer lesings tot 17:00 bygewoon en daarna was dit tyd vir aandete.

Sondag se lesings het oor karakter bou en persoonlike begrotings gehandel. Tussendeur was daar aktiwiteite en speletjies aangebied, waaraan ons vir vyf minute moes deelneem en dan aanskuif na die volgende speletjie. Die aktiwiteite het ons spanwerk en denkwyse getoets.

Maandag se lesse het oor leierskap en sosiale kohesie gehandel en die aktiwiteite het weereens ons spanwerk en denkwyse getoets.

Dinsdag se roetine was ontwrig as gevolg van ‘n covidgeval, maar alles was onder beheer en het steeds vlot verloop. Die lesing het oor nasiebou gehandel. Terwyl die dogters vir covid getoets is, het die seuns aan aktiwiteite deelgeneem. Dinsdagaand het ons na die film, Coach Carter, gekyk wat oor daardie oggend se lesings behandel het.

Woensdag was daar minder lesse en meer aktiwiteite aangebied. Terwyl die dogters aan ‘n skattejag deelgeneem het, was dit die seuns se beurt vir ‘n covidtoets. Woensdagaand was daar ‘n kultuuraand aangebied waar die verskillende groepe aan opvoerings moes deelneem. Die groepe se name was Green Buffaloes, Orange Leonards, Blue Lions , Red Rhinos en Yellow Elephants.

Donderdag het ons ‘n markdag gehou en later daardie aand was ‘n afsluitingseremonie aangebied.

Vrydag moes ons vir almal totsiens sê en terug ry huis toe.Wie sou nou ooit kon raai dat so ‘n groep verskillende mense so ‘n impak op ons lewens in so ‘n kort tyd kon hê.

Ek het verhoudings gebou wat ‘n leeftyd sal hou en het besef dis waar mens nasiebou kan laat begin.

Meer Nuusberigte