Wikus Pretorius het op 1 Augustus 2015 by Hoër Volkskool as personeellid aangesluit en was ‘n waardevolle lid van ons skoolgemeenskap. Hy het oral gehelp waar hy kon en niks was ooit te veel moeite nie.

Hy was ‘n kollega en vriend op wie se knoppie jy tydig en ontydig kon druk en hy sou altyd help. Hy was baie betrokke by die sport en het die afgelope paar jaar die o.15 rugbyspan en krieketspan afgerig. Vanjaar was hy ook betrokke by die afrigting van die o.14 rugbyspan en by atletiek het hy diskus afgerig.Hy het Toerisme vir graad 10 – 12 aangebied asook Sosiale Wetenskappe vir graad 8 en 9. Een van sy leerders het die volgende oor hom te sê gehad: “Ek dink enigiemand wat die voorreg gehad het om Meneer te ken sal weet watter groot verlies ons beleef vanaand. Meneer het die beste raad, leiding, opvoeding en ondersteuning aan ons as leerders gebied. Ek sal nou wat wil gee om net nog een keer uit meneer se klas gejaag te word.”Wikus was ook een van die skakelonderwysers by die skool se leerlingraad. Die hoofseun, Jean Louis du Plessis, beskryf hom as volg: “Mnr Pretorius het my al by pienkvoetrugby afgerig en vandaar het hy al ‘n groot impak op my lewe gehad. Ek het die voorreg gehad om saam met hom te werk by die Leerlingraad en in sy o.15 rugby- en krieketspanne te speel. Hy het altyd ‘n goeie gees gehad en daar was altyd tyd vir ‘n grappie. Ek sal altyd na hom opkyk vir wie en wat hy vir ons Volksies was.” Die hoofdogter, Mia du Plessis: “Hy was altyd daar vir ons almal. As daar iets fout was, kon ons altyd met hom gaan praat. Hy was ‘n vreugdevolle mens met ‘n groot omgee hart. Ons het baie by hom geleer en ons gaan hom baie mis. Hy sal altyd in ons harte onthou word..”

Wikus is ‘n oud-skolier van Hoër Volkskool en het in die jaar 2000 sy matriek voltooi. Sy skoolmaats ken hom as Jorik, sy doopnaam by die skool. Sy liefde en trots vir sy skool was onmiskenbaar. Hy was ‘n mense-mens. Hy was streng as dit nodig was by die skool, maar kon altyd tyd maak vir lag. Hy kon ‘n storie vertel soos min mense kan. Ons het eintlik meer gelag vir hom as die grappie self! Hy was ook vol wyshede en raad. Hy kon maklik ‘n opinie vorm en het gestaan by dit waarin hy glo. Skoolhoof van HVS, Mnr. Theo Dörfling: ”Dit is baie hartseer om afskeid te neem van ’n besondere mens. Wikus Pretorius het as leerder en onderwyser van Hoër Volkskool diep spore in ons harte getrap. Sy goeie menseverhouding en humorsin het van hom ’n baie geliefde persoon gemaak. Hy het goeie werk as onderwyser gedoen by die skool. Sy betrokkenheid by die leerlingraad het waarde tot ons leerderleierskap toegevoeg. Op sportgebied het hy dit vir die deelnemers ’n aangename ervaring gemaak en sy kennis gemaklik gedeel. Sy bydrae tot die goeie gees onder die personeel was kosbaar.”

Wikus ons gaan jou so baie mis! Jy was die ligpunt in die skool! Jou grappies en lekker lag is hoe ek jou altyd sal onthou. Mnr. Algemene Kennis, met RSG oral aan jou sy (selfs in die klas). Jy los ’n groot leemte. Rus sag ou vriend….Estene Coetzee Die skool bid sy familie vertroosting toe in hulle groot hartseer. Sy besondere menswees het ons almal se lewe verryk. Ons is dankbaar dat ons hom kon ken.

Meer Nuusberigte