‘n Besondere kultuuraand met ‘n ryke verskeidenheid is deur Hoër- en Laer Volkskool op 21 Augustus 2019 aangebied.  Daar was oomblikke van lag afgewissel met ernstige oomblikke op die verhoog.  Die gehoor het die geleentheid gekry om die talent van die leerders te bewonder en geniet.

Die aand het afgeskop met ‘n grasieuse solo dansvertoning,  “Jakkals en Eend” en “Winkeltande” het die volwassenes in die gehoor teruggevoer na die dae toe hulle begin skoolgaan het.  ‘n Mooi klavieruitvoering van “Chariots of Fire” is gevolg deur ‘n monoloog wat ‘n rugbyspeler met meer as sporttalent voorstel.  ‘n Interessante Hennetjiegedig het afwisseling gebring tussen sang- en klavieritems.  Die “cowgirls en boys”  het ‘n countryritme na die verhoog gebring.  “Die misverstand” het die gehoor laat skater van die lag.

‘n “Wasgoedgebed” het die hartsnare geroer.  In hulle bypassende uitrustings was die vertolking van die “Spaanse kitare” deur ‘n dansgroep ‘n hoogtepunt op die program.  Monoloog het tot sy reg gekom met ‘n groen monster as hoofkarakter.  ‘n Sangduet deur twee susters en ‘n “Mamma Mia”  sangsolo is deur die musiekliefhebbers geniet.  Die program is afgesluit met ‘n interessante verwerking van “Die Lappop” deur Hoër- en Laer Volkskoolpersoneel.

Toekennings is aan die leerders gemaak om erkenning te gee vir hulle bydrae op kulturele- en algemene terrein by die onderskeie skole.  Die aand is gesellig afgesluit met heerlike verversings.  Daar is groot waardering vir almal wat hierdie besondere aand moontlik gemaak het.

Meer Nuusberigte