‘n Opgewonde groep van 14 Hoër Volkskool Landsdienslede het op 25 Junie 2018 vertrek na Kareedouw vir die jaarlikse provinsiale kamp.  Daar gekom is die deelnemers in groepe verdeel en is daar op ‘n prettige manier kennis gemaak met mede spanlede.

Daar is verskeie uitstappies onderneem.  Die Tsitsikamma Crystal Water aanleg is besoek, ‘n reuse protea uitvoer plaas en by Birds of Eden is die mooiste voëls gesien.  Tydens die terugtog is aangedoen by die Bloukransbrug – net betyds om die laaste rekspringer vir die dag in aksie te sien en vrese vir hoogtes oorkom deur oor die Stormrivierbrug te stap.

Ander aktiwiteite het ‘n baie opwindende “Survivor”-stranduitdaging en verskeie staproetes ingesluit.  Landsiens is nie net speel nie, blase op die hande het bewys gelewer van die aktiwiteit waartydens bosse verwyder is vir die voorbereiding van ‘n stuk grond vir die aanplant van heuningbos.  Kareedouw dorp is ook op ‘n prettige manier verken met ‘n uitdaging om monumente in die dorp te vind en as bewys ‘n groepfoto by die baken na die organiseerder te stuur.  Die eerte span om al die bakens te vind was die wenner.

By elke Landsdienskamp is daar ook ‘n handwerkaktiwiteit.  Hierdie keer is lapverf voorsien en moes elkeen ‘n bordesakkie versier volgens eie voorkeur.  Kreatiwiteit is geprikkel en talent is getoon deur baie van die deelnemers.

Daar is ook elke aand lekker saam gesing en nuwe vriendskapsbande gestig en ander verstewig.  Landsdiens bied aan elke deelnemer die unieke geleentheid om lewensvaardighede te ontwikkel as voorbereiding vir die lewe na skool.

Na afloop van die kamp is die volgende leerders aangewys om die Oos-Kaap by die Nasionale Kamp in Desember te verteenwoordig:  Liezel Nel, Fransené Joubert, Amoré Cronje, Marni van der Merwe, Marli van der Merwe en Annelie Viljoen.  Hoër Volkskool is baie trots op hierdie ambassadeurs.

 

Meer Nuusberigte