Vrydag 2 Maart 2018 het ‘n vrolike groep Hoër Volkskool Landsdieners na Skietfontein vertrek op die jaarlikse takkamp.

Landsdiens staan stewig op vier pilare, nl. Liefde vir God, medemens, arbeid en die natuur.  Tydens kampe word tyd ingeruim vir aktiwiteite rondom elk van hierdie pilare.

Gewapen met grawe, pikke en ‘n koevoet of twee is voorbereidings getref vir die plant van spekbosse – een per persoon.  Die Karoo son was genadig en verskuil agter ‘n digte wolkbank.  Onkruid is ook in die rivier verwyder en vernietig.

‘n Gebedsroete is gebou.  Bosse is teruggekap en klippe aangedra en gepak om die roete aan te dui.  Inspirerende boodskappe is op planke geskryf en as afronding van die roete op strategiese plekke langs die roete aan bome vasgemaak.

Daar is deelgeneem aan ‘n nagmars waarna ure om die vuur gesit en kuier is terwyl sommige spookstories vertel het.  Genoeg tyd is ingeruim vir pret en plesier.  Boeresport met sakresies, driebeenresies en ‘n eierresies het vir ‘n prettige kompetisie gesorg.  Die aangee van ‘n stroop besmeerde aartappel was ‘n taai afêre, maar die waterkaskenades het beslis daarvoor vergoed.  Die plaasjapies kon hul vaardighede met teikenskiet demonstreer, maar dorpsjapie Emile Blignaut het die meeste teikens raakgeskiet!  Soos verwag word van ‘n graad 8 seun, was hulle die narre op die mak perde.

Baie dankie aan Jannie en Wilna Geyer van Skietfontein se regstaan en bontstaan en lekker etes.  Voorwaar nόg ‘n onvergeetlike Landsdienskamp!

Foto: Sakresies – Theodor Dörfling, Corné Stevens, Adriaan Fourie, Annelie Viljoen, Emile Blignaut

[huge_it_gallery id=”3″]

Meer Nuusberigte