Op Vrydag, 21 Mei om 12:00 het Hoër Volkskool ʼn opedag aangebied. Dit was bygewoon deur graad 7-leerders van Laer Volkskool asook leerders van omliggende skole en dorpe.
Die keuse vir ‘n hoërskool moet deursigtig geneem word. Tydens die opedag het Hoër Volkskool die kans benut om vir alle belangstellendes te wys wat ons bied. Ons handhaaf ʼn baie hoë standaard met akademie en spog met talle onderwysers wat moderators, sowel as adjunk hoofnasieners en senior merkers vir die jaarlikse matriek eindeksamen is.
Ons skoolhoof, mnr. Theo Dörfling is baie betrokke by die skool en elke leerling is vir hom belangrik. Hy is meestal die voorbok om ʼn goeie gees in die skool te skep en te hou. Hoër Volkskool spog gereeld met ʼn honderd persent slaagsyfer en in 2019 was van ons leerders aangewys as toppresteerders in die Ooskaapstreek.
Ons presteer baie goed op sportgebied en het afrigters van topgehalte op alle afrigtingsgebiede. Kuns en kultuur is net so belangrik en ons leerders neem aan die jaarlikse Woordfees en Eisteddfod deel.
Groot opwinding het in Hoër Volkskool se gange en op die terrein geheers. Die graad 7’s is in groepe opgedeel en elke groep het ʼn vraelys en kaart van die uitleg van die skoolgronde ontvang. Onder leiding van ’n leerlingraadslid het die groepe aan ʼn skattejag deelgeneem om die verskillende aktiwiteite te besoek en antwoorde op die vrae te kry.
Stasies wat deur leerlinge besoek is, sluit in:
SPORT: Boogskiet, Rugby, Krieket, Hokkie, Netbal, Tennis, Atletiek, Swem, Skaak, gimnasium
AKADEMIE: Skeinat, Lewenswetenskap, Verbruikerstudie, Rekenaars, Biblioteek
KULTUUR Redenaars
Daar was voortgegaan met verskillende aktiwiteite in die klaskamers wat deur leerders gedemonstreer is en op die sportveld kon belangstellendes kyk hoe spanlede deur professionele afrigters afgerig word.
Ouers en leerders het ook die geleentheid gehad om Huis Cronjé te besoek en hulle was aangenaam verras deur die huislike atmosfeer wat die koshuis bied.
Hoër Volkskool is beslis ʼn goeie keuse vir ʼn hoërskool in die hart van die Karoo.
HVS – hier wil jy wees!

Meer Nuusberigte